Somaliese vroue word glo verkrag – VN
2011-08-12 16:09
Mogadisjoe – ‘n Gesant van die Verenigde Nasies is bekommerd oor die verslae van Somaliese vroue wat seksueel aangeval word terwyl hulle die hongersnood in hulle land probeer ontvlug.
Margot Wallstrom, die sekretaris-generaal se spesiale verteenwoordiger oor seksuele geweld tydens konflik, het in ‘n verklaring gesê dat vroue en meisies “aangeval en verkrag word deur soldate en rowers” op pad na die Keniaanse grens.
Sodra die vlugtelinge in Kenia of die Dadaab-vlugtelingskamp kom, het sy gesê, “word hulle hoop om ‘n veilige hawe te vind oorskadu deur nuwe gevare soos verkragting.”
Wallstrom het gesê haar kantoor het “skokkende inligting gekry van beweerde verkragtings” deur lede van die regering se weermag in die suide van Somalië. Al-Shabab Islam-soldate ontvoer glo ook meisies en dwing hulle om met lede van dié groep te trou.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP