Somaliese seerowers sit lewenslank
2011-10-04 15:19
Mogadisjoe – Twee Somaliese seerowers is Maandag tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hulle in Februarie vanjaar vier Amerikaners vermoor het, het 'n staatsaanklaer gesê.
Muhidin Sala Omar (30) was deel van 'n Somaliese en Jemenitiese groep wat in Februarie die S/V Quest aan die Somaliese kus gekaap het.
Hy het ook aan boord die Amerikaanse missiel-oorlogskip, USS Sterett, gegaan om vir 'n moontlike losprys te onderhandel.
Terwyl hy aan boord van die Amerikaanse vaartuig was, het 'n skietgeveg op 'n privaat seiljag uitgebreek en vier Amerikaners is dood.
Die rowers is deur Amerikaanse soldate gevang en later na Norfolk in Virginië vir vervolging geneem.
Nóg drie Somaliërs staan ook tereg op aanklagte van ontvoering en die moord op twee Amerikaanse paartjies – Scott Underwood Adam, Jean Savage Adam, Phyllis Patricia Macay en Robert Campbell Riggle.
Mahdi Jama Mohamed, een van die mans wat Maandag gevonnis is, het erken hy het die groep gyselaar gehou, maar het ontken dat hy hulle geskiet het.
Hy het ook die ondersoekspan van die Amerikaanse vloot gehelp om 'n nuwe profiel van seerower-aktiwiteite en -tendense op te stel.
Mohamed en Omar het in Mei op 'n aanklag van seerowery skuldig gepleit.
Seerowers eis miljoene in lospryse vir olietenkskepe en gyselaars wat hulle aan die kus van Somalië en aan die golf van Aden kaap.
Regter Michael Davis het 'n lewenslange vonnis vir Omar en Mohamed aanbeveel.
“Somaliese seerowery is 'n plaag in die wêreld. Dit groei steeds en word meer wydverspreid en gewelddadiger,” het Neil MacBride, 'n Amerikaanse prokureur vir die Oos-distrik van Virginië, in 'n verklaring gesê.
Twee ander Somaliese seerowers sal Dinsdag gevonnis word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters