Somalië steeds in ’n penarie oor kos
2012-02-04 08:46
Nairobi– ’n Buitengewone oes ná goeie reën en kosaflewerings deur hulpagentskappe het vir eers die hongersnood in Somalië verlig.
Kosvoorrade kan egter weer in Mei op wees, het die Verenigde Nasies (VN) Vrydag gesê. Die volgende oesseisoen is eers in Augustus.
Tienduisende mense het sedert Julie in Suid- en Sentraal-Somalië gesterf in’n gebied wat deur Islamitiese militante groepe beheer word.
Meer as 2,3 miljoen Somali’s–byna ’n derde van die bevolking–verkeer nog in nood.
Mark Bowden, die VN se humanitêre kontroleerder, het gesê miljoene mense het nog kos, skoon water, skuiling en ander hulp nodig om te oorleef, en die situasie sal in Mei vererger.
Die militante Al-Sjabaab het gesê daar is geen koskrisis in die dele van die anargistiese land wat deur hom beheer word nie. Hy het die agentskappe daarvan beskuldig dat hulle die bevolking mislei.
Hulp aan sowat 180 000 mense in kampe in die hoofstad, Mogadisjoe, het die situasie daar bestendig.
Gevegte in die suidelike en sentrale dele bemoeilik hulp aan die gebiede wat dit die meeste nodig het.
Regeringsmagte veg al die afgelope vyf jaar teen die rebelle. Verlede jaar het Keniaanse en Ethiopiese magte die land binbnegekom ter ondersteuning van Al-Sjabaab, wat bande met Al-Kaïda het.
Die gevegte, aanvalle op hulpwerkers en die geskiedenis van hulp wat vir politieke gewin gemanipuleer word, maak van Somalië een van die moeilikste lande vir hulpverlening.
Sjeik Ali Mohamoed Rage, Al- Sjabaab se woordvoerder, het gesê daar is geen rede vir hulpverlening nie.
“Die mense wat in vlugtelingkampe is, moet na ons toe kom. Daar is geen hongersnood in die dele wat ons beheer nie.”
In baie van die suidelike dele is die ondervoedingspeil 20% en word hulp baie beperk.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters