Somalië rou ná bomaanval
2011-10-05 17:03
Mogadisjoe – Die Somaliese president het hospitale en oorlewendes van Woensdag se bomaanval deur militante groepe waartydens meer as 70 mense dood is, besoek.
Pres. Sheik Sharif Sheik Ahmed het drie dae van rou aangekondig en Dinsdag beloof dat sy regering alles in hul mag sal doen om soortgelyke aanvalle in die toekoms te verhoed. Die regering word deur sowat 9 000 troepe van die Afrika-unie ondersteun, maar hulle het slegs beheer oor die hoofstad.
“Ek is seker die misdaad wat hulle teen die Somaliese mense gepleeg het, sal nie ongestraf gelaat word nie,” het die president oor die al-Shabaab-groep gesê. Dié groep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.
“God sal hulle straf en die Somaliese regering sal alles in sy mag doen om die Somaliese burgers van sulke gevare te beskerm.”
‘n Vragmotor gelaai met dromme vol brandstof het Dinsdag buite die departement van onderwys in een van Mogadisjoe se besigste strate ontplof. Studente en hulle ouers was besig om te registreer vir beurse wat deur Turkye aangebied word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP