Somalië kies nuwe president
2012-08-20 12:36
Mogadishu – Somalië se nuut aangestelde wetgewers sal Maandag die land se volgende president verkies in die jongste poging om twee dekades van onstabiliteit in die land te beëindig.
Dié verkiesing sal 'n einde bring aan 'n komplekse proses om die agt jaar lange heerskappy van die federale oorgangsregering (TGF) te beëindig en vrede in die land te herstel.
Die uitgaande president, Sharif Sheikh Ahmed, is een van die gunstelinge om weer tot president verkies te word, al is hy ‘n baie omstrede figuur in Westerse lande.
‘n VN-verslag het in Julie bevind dat “diefstal en die sistemiese verduistering van geld [tydens sy presidentskap], deel gevorm het van regeringstelsels”.
Somalië se premier, Abdiweli Mohamed Ali, en die parlementêre speaker, Sharif Hassan Sheikh Adan, is Ahmed se teenstanders.
Somalië het sedert oudpres. Mohamed Siad Barre se uitsetting in 1991 geen effektiewe regeringstelsel nie.
Die parlement sal Maandag sy eerste sitting hou om vir ‘n nuwe president te stem.
Augustine Mahiga, ‘n VN-verteenwoordiger vir Somalië, het egter vroeg in Augustus al die verkiesing van die wetgewers verdoem as gevolg van die “omkopery en die intimidasie” wat daarmee gepaard gegaan het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP