Somalië: Bloedige konfrontasie in Kismayu verwag
2012-09-20 13:27
Mogadisjoe – Somalië se al-Shabaab rebelle-groep het honderde rebelle na die hawestad Kismayu gestuur, het inwoners gesê.
Inwoners beweer ‘n bloedige konfrontasie tussen al-Shabaab en die Afrika-unie se soldate kan binnekort verwag word.
Hierdie verwikkelinge kom slegs dae nadat dit geblyk het of al-Shabaab hom uit Kismayu onttrek het.
“Al-Shabaab-rebelle het weer die kampe en die basisse wat hulle die afgelope tyd verlaat het, gevul,” het Farah Roble, ‘n slagter, gesê.
“Ons is angsbevange. Al-Shabaab lyk vasbeslote om vir Kismayu te veg.”
Gerugte het ook die ronde gedoen dat een van Al-Shabaab se top drie bevelvoerders ook in die stad is.
Vroeër vandeesweek het Keniaanse soldate die rebelle oorval.
Cyrus Oguna, Kenia se weermagsbevelvoerder, het gesê dat die finale aanslag op Kismayu onvermydelik is.
“Ons moet versigtig wees, die pad is oorstrek met plofstowwe. Dit sal gebeur. Kismayu sal val,” het hy gesê.
Intussen het die Afrika Unie (AU) die rebelle aangemoedig om hulself oor te gee.
“’n Paar van hulle het ons al gekontak en gesê dat hulle nie meer wil baklei nie. Ons het hulle verseker dat hulle sal veilig wees as hulle hulself oorgee aan ons magte,” het Simon Karanja, ‘n AU-amptenaar, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters