Soedannese opposisieleier in aanhouding
2011-10-14 16:22
Kartoem – Veiligheidsmagte het Farouk Abu Issa, ‘n prominente Soedannese opposisieleier, Donderdag by sy woonstel in Kartoem in hegtenis geneem en na ‘n onbekende plek geneem, het sy dogter gesê.
“Ons weet nie hoekom hy weggeneem is nie. Ons weet ook nie waar hy nou is nie. Hy is 75 jaar oud en het hoë bloeddruk. Hy is nie in ‘n toestand om aangehou te word nie,” het sy dogter aan Reuters gesê.
Die Soedannese Mediasentrum (SMC) het gesê dat Abu Issa die Nederlandse ambassade in Kartoem vir finansiële ondersteuning gevra het om opposisie-aktiwiteite te reël om die regering van president Omar Hassan al-Bashir omver te werp.
“Tydens ‘n onlangse besoek aan die ambassade het hy die reëlings wat deur die opposisiemagte gemaak is om die regering omver te werp, nagegaan. Dit sluit in ‘n onlangse poging om betogings teen hoë lewenskoste in dele van Kartoem te reël,” het die SMC gesê. Die bron is nie bekend nie.
Abu Issa is die voorsitter van die National Consensus Forces, ‘n koalisie van opposisiepartye.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters