Soedan steel glo olie van S-Soedan
2012-01-17 14:58
Juba – Suid-Soedan se minister van olie beskuldig Soedan daarvan dat hulle 120 000 vatte per dag van Suid-Soedan se olie steel.
Die beskuldiging is Dinsdag gemaak op dieselfde dag as wat die twee lande met ‘n nuwe rondte van onderhandelinge begin het oor hulle oliebedryf.
Nadat Suid-Soedan in Julie sy onafhanklikheid gekry het, het die land ook ‘n groot gedeelte van Soedan se olie gekry. Die suide se olie moet egter eers deur Soedan se pyplyne loop om by die hawe uit te kom.
Stephen Dhieu Dau, Suid-Soedan se minister van petroleum en mynbou, het gesê dat Soedan sowat 120 000 vatte olie wat daagliks uit Suid-Soedan kom, herlei.
Soedan het gesê hy vat die olie as vergoeding vir vervoer wat Suid-Soedan glo nie betaal nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP