Soedan staak BBC-uitsendings op radio
2010-08-09 05:42
Kartoem - Soedan het Maandag BBC-uitsendings in Arabies op radiofrekwensies gestaak ná hy sy ooreenkoms met die Britse openbare uitsaaier opgeskort het, vir redes wat niks met sy nuuspersoneel te doen het nie.
In 'n verklaring wat die Suna-nuusagentskap Sondag uitgereik het, het die ministerie van inligting beweer dat die BBC tegniese toerusting via die Britse diplomatieke koerier ingevoer het.
Kort ná middernag is BBC-uitsendings in Kartoem nie meer gehoor nie, terwyl ander radiostasies normaal funksioneer het.
Die inligtingsministerie het ook die BBC voor stok gekry vir opleidingskemas in die afwesigheid van 'n finale ooreenkoms met Kartoem en dat hulle sonder die goedkeuring van die regering in Juba uitsaai.
"Die opskorting hou glad nie verband met nuusuitsendings van die BBC van Soedan nie," lui die verklaring.
Met uitsendings in vier plekke in Soedan, is die BBC 'n groot nuusbron in Soedan, die grootste land in Afrika met 'n bevolking van 40 miljoen mense wat meestal Arabies praat.
Volg Nuus24 op Twitter
- AFP