Mediavryheid in Soedan steeds in gedrang
2011-08-08 15:19
Kartoem – Soedannese veiligheidsmagte het die jongtse drukoplaag van ‘n onafhanklike koerant in Kartoem gekonfiskeer – die jongste teken van media-onderdrukking in dié land is, het die koerant se redakteur Maandag gesê.
Die Soedannese grondwet maak voorsiening vir mediavryheid, maar joernaliste kla gereeld oor sensuur.
In Julie is twee joernaliste in hegtenis geneem nadat hulle oor verkragtingsake geskryf het.
“Veiligheidsmagte het Saterdag alle uitgawes gekonfiskeer nadat ons dit laat druk het,” het Adil al-Baz, die redakteur van die al-Ahdath-koerant, gesê. Daar is glo geen rede aan die koerant verskaf oor hoekom dit gedoen is nie.
Die uitgawe het 'n onderhoud met ‘n senior beampte van die noordelike tak van die SPLM-party, die regerende party in Suid-Soedan, bevat. Daar is ook oor korrupsie en terrorisme in die uitgawe berig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters