Soedan en Suid-Soedan in twis oor olie
2012-01-10 18:57
Juba, Suid-Soedan – Suid-Soedan het Dinsdag gesê dat Soedan, sy noordelike buurland wat die streek se pyplyne beheer, die vervoer van 3,4 miljoen vate olie wat aan die suide behoort sedert Desember geblok het.
Nadat Suid-Soedan in Julie weggebreek het van Soedan om die wêreld se nuutste land te word, het Suid-Soedan beheer gekry oor byna ‘n driekwart van die twee lande se olievelde.
Sowat 500 000 vate olie word per dag geproduseer.
Die verlies van die olie het Khartoem byna die helfte van sy jaarlikse inkomste gekos en die twee lande is tans in onderhandelinge oor die verdeling van inkomste en pyplyn-fooie om die noorde te help met sy begrotingstekort.
Nietemin het Suid-Soedan se minister van petroleum en mynwese, Stephen Dhieu Dau, Dinsdag by ‘n nuuskonferensie gesê dat die noorde verhoed het dat 3,4 miljoen vate olie die mark bereik.
Hy het verder gesê dat Soedan 550 000 vate wat aan die suide behoort aan een van Khartoem se kopers verskaf het.
“Hulle wil steel, die hulpbronne van Suid-Soedan roof,” het Dau gesê.
Dau het gesê dat een skip met een miljoen vate van die suide se olie verhoed is om Soedan se hawe op 31 Desember te verlaat, terwyl ‘n tweede een, met 600 000 vate, op 3 Januarie gestop is.
‘n Derde skip het die hawe op 6 Januarie binnegegaan, maar kon nie sy vrag van 600 000 vate oplaai nie.
Die minister het bygevoeg dat nog twee skepe wat geskeduleer was om altesaam 1,2 miljoen vate olie van die suide te ontvang, nie toegelaat is om die noordelike hawe binne te gaan nie.
“Hulle wag nou nog in internasionale waters op die Rooi See, al sedert 22 Desember,” het Dau gesê.
Suid-Soedan noem dit diefstal van hul natuurlike hulpbronne en ‘n oortreding van internasionale wetgewing.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP