Soedan bespreek onttrekking van troepe uit Abyei
2011-06-13 11:32
Addis Ababa - Omar al-Bashir, die leier van Soedan, en Salva Kiir, die leier van Suid-Soedan, gaan glo Maandag vir die tweede keer vergader oor die omstrede grensdorp Abyei en mag dalk binnekort ‘n ooreenkoms maak, volgens nuusberigte.
Al-Bashir het glo ingestem om al die noordelike troepe vanuit Abyei, wat verlede maand binnegeval is, terug te roep.
Die samesprekings in Addis Ababa, die hoofstad van Ethiopië, word deur Thabo Mbeki, die voormalige president van Suid-Afrika, gemodereer.
Mbeki het gesê die twee Soedannese leiers is besig om ‘n “geïntegreerde pakket” te bespreek. Dit sluit in die onttrekking van alle gewapende magte uit Abyei, die administrasie van Abyei en die moontlike ontplooiing van Ethiopiese vredewerkers en politiese en veiligheidsmeganismes.
Beide partye is vasbeslote en verstaan die dringendheid van die saak, het Mbeki gesê. Suid-Soedan sal van 9 Julie af onafhanklik van die noorde van Soedan wees en sodoende die jongste land in die wêreld word.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA