Soedan: Twee dood na botsings met polisie
2011-09-22 14:08
Kartoem – Twee betogers is Woensdag ná botsings met die polisie in Gedaref in die ooste van Soedan dood nadat owerhede beveel het dat koeistalle in die dorp afgebreek moet word, het die departement van binnelandse sake gesê.
Die voorval het in die Al-Sawfa-omgewing in Gedaref plaasgevind toe die munisipale polisie probeer het om die stalle te verwyder.
“Van die inwoners was teen die nuwe bevel, wat gelei het tot botsings met die polisie. Twee inwoners is dood en een polisiebeampte is beseer,” het die departement in ‘n verklaring gesê.
Inwoners in die dorp het die voorval bevestig en gesê dat die mense wat betrokke was van die Beni Amer-tak van die Beja-stam is.
Die Beja-stam in Afrika is tradisionele kameelherders. Baie van die stamlede het na die stedelike gebiede migreer weens erge droogtes in die omgewing.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP