Soedan: Sewe rebelle kry doodstraf
2011-11-29 14:44
Kartoem – Sewe mense in Soedan is die doodstraf opgelê nadat hulle daarvan beskuldig is dat hulle lede is van ‘n rebelle-groep in die geweldgeteisterde Darfoer-streek, het die staatsmedia Maandag berig.
Gevegte in die gebied het redelik verminder sedert ‘n hoogtepunt in 2003 en 2004, maar skermutselings tussen regeringsmagte, burgermagte, bendes, stamme en rebellegroepe duur steeds voort.
Die hof in die noorde van die Darfoer-staat se hoofstad, El Fasher, “het sewe van die beskuldigdes wat aan die Justice and Equality Movement (JEM) behoort, tot die doodstraf gevonnis,” het Suna – ‘n amptelike nuusagentskap – berig.
Die berig het nie verduidelik op watter aanklagte die sewe skuldig bevind is nie. Daar is net gesê dat hulle volgens ‘n aantal wette, wat verband hou met terrorisme en bendes, skuldig bevind is.
Die saak het ook gehandel oor ‘n aanval op ‘n militêre konvooi wat van Kartoem na Nyala, die hoofstad van Suid-Darfoer, gereis het, waartydens talle soldate doodgemaak is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters