Soedan: Media word wéér onderdruk
2010-06-10 15:33
Khartoem – Sensuur en onderdrukking in die media is terug in Soedan ná die herverkiesing in April van president Omar al-Bashir, het die opposisie en onafhanklike koerante gesê.
“Tydens die verkiesingsperiode was daar geen sensuur nie, maar nou is dit terug,” het Annur Ahmed Annur, redakteur van die dagblad Al-Sahafa, gesê.
Verlede September het Bashir aangekondig dat die sensuur gelig sal word.
Dié stelsel het behels dat koerante elke aand bestudeer is om sensitiewe artikels voor publisering uit te skakel.
Koerante is nou in kennis gestel dat daar sekere grense is wat nie oortree mag word nie, insluitend kwessies oor nasionale sekuriteit en artikels wat sensitief is vir die publiek se moraliteit.
Tydens die verkiesingsperiode kon Soedanese joernaliste die land se verkiesing dek sonder dat hul artikels bestudeer is.
Sedert die herverkiesing van Bashir het die ou stelsel teruggekeer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP