Soedan: Drie noodwerkers ontvoer
2010-05-19 15:23
Khartoem – Drie noodwerkers is Dinsdag in die westelike Soedannese area van Darfoer ontvoer, het ‘n woordvoerder van die Verenigde Nasies (VN) gesê.
Twee van die noodwerkers is van Soedan terwyl die ander een ‘n buitelander is.
Volgens Samuel Hendricks, ‘n VN-woordvoerder, is die noodwerkers, wat vir ‘n nie-regeringsorganisasie gewerk het, in die suide van Darfoer ontvoer toe hulle op pad Nyala toe is.
Gewapende mans het ‘n konvooi van twee voertuie gestop waarin nege werknemers van die organisasie gereis het, het hy gesê. Drie van hulle is ontvoer.
Die ander ses mense is veilig in Abu Ajura, het Hendricks gesê.
Tydens die afgelope jaar is talle noodwerkers ontvoer.
Twee Egiptiese vredebewaarders is op 7 Mei in Darfoer vermoor.
Verlede maand is vier Suid-Afrikaanse vredebewaarders in Darfoer ontvoer en ná vyftien dae weer vrygelaat.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.