Só is Gaddafi se seun gevang
2011-11-23 09:03
Zintan (Libië) –’n Libiese nomade het Saïf al-Islam Gaddafi, seun van wyle kol. Muammar Gaddafi, uitgelewer aan die mense wat hom gevange geneem het.
Dié nomade beweer nou hy is €1 miljoen (sowat R 11,4 miljoen) belowe om Saïf na die buurland Niger te help vlug.
Saïf, na wie die internasionale strafhof gesoek het om hom te vervolg, is die naweek gevange geneem in wat ’n amptenaar van die Libiese tussentydse oorgangsraad beskou het as die “slothoofstuk in Libië se drama”.
Joessef Saleh al-Hotmani, die nomade, het met ’n swart serp om sy kop vertel hy het Libiese rebelle in die suide van die land gekontak en aan hulle gesê wanneer Saïf se konvooi met twee motors daarin Vrydagnag deur dié deel van die land sou ry.
“Ek het Saïf se vertroue gewen,” het Hotmani Dinsdag in Zintan, waar Saïf in ’n geheime plek aangehou word terwyl die aanklagte teen hom gefinaliseer word, gesê.
Volgens Hotmani het hy die nag toe Saïf gevange geneem is saam met Saïf se lyfwag in die voorste motor van die konvooi gery.
“Ek het met die vegters wat Saïf gevange geneem het, ooreengekom dat die beste plek vir ’n hinderlaag ’n deel van die woestyn is wat deur koppies omring word.”
Tien vegters van die weste van die land en vyf van Al-Hotman, Hotmani se stam, het die hinderlaag toe opgestel.
“Die geweervuur toe ons daar aankom, was baie presies en dit het net 30 sekondes geduur om die eerste motor te oorrompel.”
Hotmani het Saïf doelbewus die twee motors 3 km uitmekaar laat ry sodat Hotmani by die vegters kon aansluit en die vegters tyd kon hê om te hergroepeer.
“Toe die tweede motor aankom, het ons met presisie geskiet om die motor in so ’n mate te beskadig dat Saïf nie daarin kon wegvlug nie.
“Saïf, gekleed in ’n lang jurk en met ’n bruin serp om sy kop gedraai, het uit die motor gespring en vergeefs probeer weghardloop voordat hy gevange geneem is. Ons het hom soos ’n krygsgevangene behandel,” het Hotmani gesê.
Dit is onduidelik of Hotmani van meet af aan, toe hy as Saïf se gids in die woestyn begin optree het, van plan was om Saïf uit te lewer en of hy eers besluit het om Saïf uit te lewer toe dit begin lyk het of hy nie die beloofde geld sou kry nie en dat hy (Hotmani) om die lewe gebring sou word.
“Ek is oortuig Saïf en sy wagte sou my doodmaak as ons die grens bereik het, want hulle was gewapen met twee gewere, twee granate en ’n mes en het boeie gehad.”
Hotmani het nie uitgewei oor wanneer of hoe hy die vegters gekontak het wat die hinderlaag opgestel het nie.
– Reuters
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld