Skote klap om hoof van Libiese weermag
2011-12-10 23:01
Tripoli – 'n Woordvoerder vir die Libiese weermag het gesê gewapende mans het probeer om die hoof van die weermag in 'n aanval helder oordag in die hoofstad dood te skiet.
Abdel-Razik el-Shibahy, 'n woordvoerder, sê die hoof van die weermag was Saterdag in 'n konvooi van sy huis in Tripoli na die weermaghoofkwartiere onderweg toe 'n groep gewapende mans probeer het om hulle voor te keer.
Gen Khalifa Hifter se konvooi het reguit na 'n nabygeleë brug koers gekies, waar twee gewapende mans aan beide kante van die brug op hulle losgebrand het.
Niemand in die konvooi is in die aanval beseer nie, het die woordvoerder gesê, en die soldate het die twee gewapende mans in hegtenis geneem.
Hifter se seun, Belgasim, het die aanval op 'n groep voormalige rebelle-vegters blameer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP