Sirte raak ‘n doring in NOR se vlees
2011-10-05 16:04
Sirte – Talle inwoners van Sirte, Muammar Gaddafi se tuisstad, blameer Libië se nuwe regering en sy Westerse bondgenote vir die dood en verwoesting wat deur weke se gevegte op dié stad losgelaat is.
Die meeste inwoners is huiwerig om bekend te maak wie hulle ondersteun uit vrees vir hulle veiligheid, maar hulle woede en verbittering is duidelik, berig Reuters.
“Dié land is rondom een man gebou. As hy verby is, is Libië verby,” het al-Fatouri, ‘n inwoner buite sy huis in Sirte, gesê.
“Gaddafi is soos ‘n foto in ‘n raam. As ‘n gedeelte van die raam beskadig word, sal die hele foto verwoes word, Libië gaan verwoes word,” het hy gesê.
Intussen het die tussentydse regering beloof om ‘n finale aanval op Sirte te loods in ‘n poging om dit oor te neem.
Een van Gaddafi se voormalige luitenante het gesê hy glo vas Gaddafi is vasberade om tot die einde te veg.
“Ek dink nie Gadaffi het die land verlaat nie. Ek glo vas, volgens my kennis van hom, dat hy saam met sy manne aan die veg is,” het Al-Baghdadi Ali al-Mahmoudi, Gaddafi se voormalige premier wat in ‘n Tunisiese gevangenis aangehou word, gesê.
“Hy sal nie oorgee nie en hy sal nie sy wapens neerlê nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters