Sindikaat vas na sigarethandel
2009-09-16 11:03
Maputo – Mosambiek se ontvanger van inkomste (AT) het ‘n sindikaat wat sigarette onwettig in die land insmokkel vasgetrek en daar is op meer as $2 miljoen (R14,8 miljoen) se sigarette in die proses beslag gelê , het ‘n berig Woensdag gesê.
Die ingesmokkelde sigarette word al van Januarie af gekonfiskeer, het die staatsbeheerde Televisao de Mozambique (TvM) vir Orlando Jose, direkteur van AT se oudit en ondersoekeenheid gesê.
Volgens Jose is ongeveer 19 plaaslike maatskappye in dieselfde periode geoudit en is daar gevind dat hulle vals invoerkwitansies het.
AT verwag dat hulle teen die einde van die jaar beslag sal lê op meer as $10 miljoen (R74 miljoen) se onwettig ingevoerde sigarette wat van buurlande ingesmokkel word, het hy gesê.
Mosambiek veg ook teen die insmokkel van buitelandse bier wat meestal van Suid-Afrika deur informele invoerders na die land gebring word.
Jose het aan die staat se uitsender gesê dat inspeksie vir onwettige invoere by die land se grense nie effektief was nie.
Volgens Jose het die ontvanger van inkomste slegs 3000 gevalle van onwettig ingevoerde alkohol aangemeld.
Meeste van die gesmokkelde goedere kom by die land in deur informele oorgangspunte, of nadat informele handelaars omkoopgeld aan grensamptenare betaal, het die verslag gesê.
- Sapa