Sierra Leone teen afskaffing van doodstraf
2011-04-06 10:42
Freetown - Sierra Leone is een van die lande wat amptelik gesê het hulle is teen die voorgestelde wêreldwye afskaffing van die doodstraf, het Amnesty International se plaaslike afdeling Dinsdag gesê.
“Die organisasie is ernstig bekommerd dat Sierra Leone se naam by ‘n brief ingesluit is, wat stry teen die afskaffing van die doodstraf,” het Brima Sheriff, die direkteur van Amnesty International in Sierra Leone, gesê.
Hy het verwys na die brief wat aan die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gerig is.
“Dit is ‘n groot besluit om te veg teen die afskaffing van die doodstraf terwyl dié land se regering nie een keer in die afgelope tien jaar sy galg gebruik het nie,” het hy gesê.
Franklyn Kargbo, regsminister en prokureur-generaal van Sierra Leone, wou nie direk kommentaar oor die situasie lewer nie, maar het gesê dat “die saak oor die doodstraf in Sierra Leone aandagtig bestudeer moet word.”
“Die afskaffing van die doodstraf is op die regering se agenda. Dit sal die nodige aandag op die regte tyd kry,” het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP