Siamese tweeling sterf ná operasie
2012-03-23 21:06
Antananarivo – ‘n Ses maande oue Siamese tweeling wat by die maag, sternum en lewer geheg was, is twee dae ná ‘n reuse-operasie om hulle te skei in Madagaskar dood, het hulle dokter Vrydag gesê.
“Ons het alles gedoen wat ons kon, maar daar was ongelukkig beperkinge buite ons beheer,” het Mamy Lalatiana Andriamanarivo, die hoof van pediatriese chirurgie by die hospitaal waar die operasie uitgevoer is, gesê.
Hulle het 48 uur nadat hulle geskei is aan kardio-pulmonale-versaking gesterf, het hy gesê.
“Ons toerusting was onvoldoende om te voorsien aan die onvoorsiene omstandighede,” het hy bygevoeg.
Die lyke is teruggestuur na die dorp Talata Vohimena in die suide van die land van waar hulle afkomstig was.
Siamese tweelinge is ‘n baie rare verskynsel, met ‘n beraamde een uit elke 200 000 geboortes.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP