Ses in Rwanda vas vir beplande aanvalle
2011-06-22 15:09
Kigali – Polisie in Rwanda het Woensdag ‘n senior-beampte van die weermag en vyf ander verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle aanvalle op politieke leiers en sleutel-infrastruktuurprojekte beplan het.
Die ses is in hegtenis geneem nadat hulle van hul basis in die oostelike Demokratiese Republiek van die Kongo geskuif het. Hulle word verbind met die voormalige hoof van die weermag, Faustin Kayumba Nyamwasa, en die voormalige minister van verdediging, Emmanuel Habyarimana, het die polisie gesê.
“Die verdagtes het hulle planne om aanvalle in Rwanda uit te voer van hulle basis in die DRK bekendgemaak,” het ‘n polisieverklaring gelui.
“Hulle sou besige dele teiken, sowel as fasiliteite waar brandstof geberg word en voertuie wat brandstof vervoer, nasionale leiers en diplomate.”
Die leier van die groep is kol. Norbert Ndererimana.
Nyamwasa en Habyarimana is beide opponente van Rwanda se president Paul Kagame en hulle leef in ballingskap.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP