Ses gehang in Soedan
2010-01-14 17:46
Khartoem – Ses mense is Donderdag in die Soedanese hoofstad gehang vir hul rol in die dodelike konflik wat in 2005 tussen polisie en inwoners van 'n vlugtelingkamp uitgebreek het.
Die konflik het in Mei 2005 ontstaan, 'n paar maande ná die einde van Soedan se noord-suid burgeroorlog, soos owerhede probeer het om mense met geweld uit die Soba Aradi kamp in 'n woonbuurt van Khartoem te verwyder.
Sowat 10 000 vlugtelinge was in die kamp woonagtig.
Die dodetal ná die konflik het op 44 gestaan, wat 30 burgerlike sterftes en 14 lede van die sekuriteitsmagte ingesluit het.
Meeste van die verdagtes wat na afloop van die geweld in hegtenis geneem is, is vrygespreek, maar ses mense is met doodstraf gevonnis.
Volgens die amptelike Soedanese nuusagentskap, SUNA, is die ses in die Kober-gevangenis in noord-Khartoem terregestel nadat hul appèlprosesse misluk het.
Soba Arabi word nou, vyf jaar ná die twee dekade lange oorlog en 'n beraamde twee miljoen sterftes, nie meer as 'n vlugtelingkamp gesien nie, maar as 'n arm woonbuurt waar talle mense van omliggende streke woon.
–Sapa-AFP