Senegal spreek kommer uit oor situasie in Noord-Mali
2012-09-18 17:25
Nouakchott – Senegal en Mauritanië se leiers het hul kommer uitgespreek oor “ernstige dreigemente” oor ‘n Islamitiese oorname in Noord-Mali.
Macky Sall, Senegal se president, het tydens sy eerste amptelike besoek aan Nouakchott in Mauritanië gesê dat hy en Mohamed Ould Abdel Aziz, Mauritanië se president, dieselfde voel oor die onbestendige situasie in Mali nadat Islamiete beheer oor Noord-Mali ná ‘n staatsgreep in Maart geneem het.
“Ons voel dat as die rebelle wil onderhandel, moet ons onderhandel, maar as hulle met terrorisme wil voortgaan, sal hulle die gevolge moet dra,” het Sall gesê sonder om uit te brei oor die gevolge.
Die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika State (Ecowas) het ‘n spesiale vergadering in Abidjan in die Ivoorkus gehou met die doel om ‘n taakmag in Mali te ontplooi.
Die vergadering is gereël nadat Mali se tussentydse president, Dioncounda Traore, vir militêre bystand by Ecowas gevra het om Noord-Mali terug te neem.
Senegal het in Julie gesê dat hulle nie soldate in Mali sal ontplooi nie.
Die VN se veiligheidsraad het tot dusver nog nie toestemming vir Ecowas gegee om soldate in Mali te onplooi nie.
‘n Internasionale konferensie wat deur Ban Ki-moon, die VN se sekretaris-generaal, gehou word, sal die krisis in New York op 26 September bespreek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP