Senegal: President gee ministers trekpas
2012-10-30 15:52
Dakar – Macky Sall, president van Senegal, het sy ministers van binnelandse en buitelandse sake afgedank in sy eerste kabinetskommeling sedert hy ses maande gelede ingehuldig is.
Mbaye Ndiaye, die minister van binnelandse sake, het onder skerp kritiek deurgeloop vir die manier wat hy ‘n groep betogers hanteer het wat motorvensters uitgeslaan het, busse aan die brand gesteek het en winkels omgekeer het in Dakar oor ‘n geestelike leier wat in hegtenis geneem is.
Ndiaye word deur die afgetrede genl. Pathe Seck vervang.
Alioune Badara Cisse, minister van buitelandse sake, is ook in die pad gesteek en vervang met Mankeur Ndiaye, Senegal se ambassadeur in Frankryk.
“Ons het gevoel dis nodig om iets anders in daardie twee departemente te probeer,” het premier Abdoul Mbaye gesê.
Ander veranderinge aan die kabinet sluit in die aanstelling van Abdoul Latif Coulibaly, ‘n bekende joernalis, as minister van staatsbestuur en as regeringswoordvoerder.
Die 50-jarige Sall het in Maart die verkiesing teen Abdoulaye Wade gewen.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters