Sekte dood 5 in Nigerië
2012-01-31 22:10
Maiduguri – Altesaam vyf mense het gesterf in ‘n aanval wat deur vermeende Islamitiese rebelle in die noordooste van Nigerië uitgevoer is, het die polisie gesê.
Samuel Tizhe, ‘n polisiewoordvoerder vir die staat Borno, sê gewapende mans van die groep Boko Haram het Maandag ‘n lugmagbasis, ‘n polisiestasie en ‘n weermag-beheerpunt aangeval.
Die aanval is sowat 150 km noord van die sekte se vesting in die stad Maiduguri uitgevoer.
Tizhe sê ‘n soldaat, twee polisiebeamptes en twee burgerlikes het in die aanval gesterf.
‘n Beampte van die weermag sê ‘n soldaat is in die arm geskiet toe die rebelle die beheerpunt aangeval het.
Boko Haram het verantwoordelikheid aanvaar vir ‘n reeks aanvalle vroeër vandeesmaand in Kano. Minstens 185 mense het in dié aanvalle gesterf.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA