Seerowery in Somalië kan toeneem
2009-07-27 10:21
Doebaai – Die Amerikaanse vloot het gewaarsku dat seerowery weens gunstige weerstoestande langs die Somaliese kus kan toeneem.
Die vloot het gesê die hoë waters in die Golf van Aden het dit moeilik gemaak vir seerowers om skepe oor die laaste paar maande aan te val.
“Met die monsoon-storms wat binne vier tot ses weke iets van die verlede gaan wees kan seerowery toeneem,” het die vloot Maandag in ‘n verklaring gesê.
Die vloot het seegebruikers aangeraai om die aangewese ingangspunt te gebruik wanneer hulle die Golf van Aden betree.
Dié ingangspunt word deur 30 oorlogskepe en 16 ondersteuningsvaartuie gepatroleer.
Seerowers in dié land het al honderde aanvalle vanjaar uitgevoer. Meer as 12 gekaapte skepe word tans deur seerowers aangehou waar hulle vir ‘n losprys wag.
– SAPA