Seerowery in Afrika verdubbel
2012-10-27 14:01
Accra - Diefstal deur seerowers in Wes-Afrika het nie net verdubbel nie, maar ook 'n strategiese verandering ondergaan, meen 'n verslag wat Vrydag deur die Atlantiese Raad vrygestel is.
Die Atlantiese Raad is 'n Amerikaanse organisasie wat hom toespits op internasionale aangeleenthede vanuit Washington.
Luidens die verslag is daar nou meer en meer gewelddadige aanvalle deur seerowers langs die weskus van Afrika. In die eerste ses maande van 2012 is 34 aanvalle aangemeld, waarvan 24 suksesvol was. Dit is meer as dubbel die getal wat in die eerste helfte van 2011 gerapporteer is.
Waar aanvalle vroeër naby die kus plaasgevind het, is daar nou toenemend ook seerowery in die diepsee.
Die waters rondom Somalië en Nigerië bly die gevaarlikste gebiede vir skepe.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA