'Sarkozy, Cameron wil Libië koloniseer'
2011-09-16 15:14
Nicosia – Die besoek van David Cameron en Nicolas Sarkozy aan Libië “is die begin van die kolonisering van die olieryke land,” het Mussa Ibrahim, Muammar Gaddafi se woordvoerder, Vrydag gesê.
Die Britse premier en Franse president is Donderdag soos helde in Tripoli en Benghazi verwelkom.
Ibrahim het, in ‘n telefoniese onderhoud met die Arrai-televisiekanaal in Sirië, gesê dat dié twee leiers ‘n verskuilde agenda met hul besoek het.
“Die besoek is die begin van ‘n kolonisering van Libië,” het hy gesê.
“Hulle skarrel nou om die vrugte te pluk van die val van Tripoli omdat hulle bang is Amerika en ander groot lande wil ook ‘n sny van die koek hê.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP