Salarisverminderings steeds op kaarte in Swaziland
2011-08-08 09:53
Mbabane – Swaziland se regering gaan voort met die beplande verlaging van staatsamptenare se salarisse ondanks die feit dat dié land 'n reddingspakket van R2,4 miljard van Suid-Afrika ontvang het, het RSG berig.
Wetgewing wat besonderhede verstrek oor die verlaging van salarisse as maatreëls om die land se hoë salarisrekening te verminder, is in die parlement ter tafel gelê en aan vakbonde versprei.
Vakbondlede het verlede week die strate ingevaar om te betoog teen die regering se planne om staatsamptenare se salarisse te verlaag, te midde van 'n groeiende finansiële krisis in die land.
“Regeringsamptenare wat die minste betaal word se salarisse sal met 2.5 % gesny word terwyl die wat die meeste betaal word se salarisse met 10% verminder gaan word,” is in ‘n dokument bekend gemaak.
Suid-Afrika het die lening toegestaan, op voorwaarde dat Koning Mswati dialoog oor politieke hervorming begin.
– Volg Nuus24 op Twitter.