Saif kan gangreen kry, sê dokter
2011-11-29 09:00
Tripoli – Saif al-Islam, die seun van kol. Muammar Gaddafi, kan gangreen kry as die wond aan sy regterhand nie behoorlik behandel word nie, het die Oekraïnse dokter wat hom aanvanklik behandel het, Maandag gesê.
“Sy besering was baie ernstig toe ek hom laas gesien het, maar dit was nie gangreen nie. As dit nie behoorlik behandel word nie, kan dit wel so raak,” het Andrei Murakhovsky, die dokter wat Saif behandel het die dag nadat hy in die suide van Libië op 19 November gevange geneem is, gesê.
Murakhovsky is bekommerd oor Saif se gesondheid omdat hy sedert sy laaste besoek op 20 November nog nie weer vir Saif kon sien nie.
“Ek is deur die militêre raad gebel. Ek het die wond skoongemaak en in verbande toegedraai. Maar dit moet weer oopgemaak en skoongemaak word. Die hoof van die militêre raad het gesê hulle sal my kontak, maar niemand het nog nie,” het Murakhovsky gesê.
Saif het die besering aan sy regterhand opgedoen tydens ‘n ontploffing ‘n maand voordat hy gevange geneem is. Sy wysvinger en duim is erg beseer, het Murakhovsky gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP