Gaddafi se seun sal in Niger bly
2011-11-16 10:09
Niamey – Saadi Gaddafi, een van Muammar Gaddafi se seuns, sal in Niger aanbly totdat die Verenigde Nasies die reisverbod op hom teruggetrek het, het owerhede in Niger gesê.
Die oorgangsregering in Tripoli het egter versoek dat Saadi aan Libië uitgelewer word.
Saadi het na Niger gevlug nadat Gaddafi se regime in Augustus geval het. Sedertdien bly hy daar aan. Niger het hom asiel aangebied op grond van humanitêre redes.
Saif al-Islam, nog een van Gaddafi se voortvlugtende seuns, het glo of na Niger of na Mali gevlug, maar die twee lande ontken dat hy daar is.
Saadi, ‘n sakeman en voormalige professionele sokkerspeler, is soos talle ander senior lede van die Gaddafi-regime verbied om te reis en al sy bates is deur ‘n resolusie van die VN se Veiligheidsraad gevries.
“Ons is verplig om hierdie resolusie na te kom. Hy is hier en hy mag nie reis nie. Totdat die resolusie hersien word, sal Saadi in Niger bly,” het Bazoum Mohamed, Niger se minister van buitelandse sake, Dinsdagaand gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters