SMS’e vlieg oor nuwe betogings in Maputo
2010-09-06 06:34
Maputo - Mosambiek was Sondag plofbaar, terwyl gerugte die ronde gedoen het dat betogings vandag in Maputo, die hoofstad, sou hervat.
Inwoners het SMS’e onder mekaar gestuur en mense aangespoor met: “Moçambique siga em frente” (Mosambiek kom na
vore).
Die polisie het gesê hulle is reg vir ’n tweede vlaag van gewelddadige betogings, berig Sapa-AFP.
Maputo het verlede week twee dae lank tot stilstand gekom toe betogers paaie versper, verkeer ontwrig en ondernemings geplunder het.
Die inwoners het teen hoër kos-, brandstof-, krag- en waterpryse betoog.
Slegs 2 000 mense per dag het Woensdag en Donderdag die Lebombo-grenspos, buite Komatipoort, van Suid-Afrika na Mosambiek oorgesteek, waar dit gewoonlik tussen 9 000 tot 11 000 is.
William Mpye, hoof van Suid-Afrikaanse grensbeheer- operasionele koördineringskomitee (BCOCC), het gesê die beweging van kommersiële verkeer en private motors was laer.
Donderdag het net 175 vragmotors en 429 motors die grenspos van Suid-Afrika na Mosambiek oorgesteek, waar dit gewoonlik onderskeidelik 350 vragmotors en 1 400 private motors is.
Volgens die BCOCC was daar ’n tou vragmotors van tot 7 km aan die Suid-Afrikaanse kant wat gewag het om die grenspos oor te steek.
Geen betogings het Maputo die naweek ontwrig nie.
Volgens die Mosambiekse regering het betogings die land al R23 miljoen (122 miljoen meticais) gekos.
Pres. Armando Guebuza het verlede week gesê die regering sal nie die verhogings terugtrek nie.
Leopoldo Amaral van die Open Society Initiative for Southern Africa (OSISA) meen die Mosambiekse regering het nie geld om kos en brandstof te subsidieer nie, dog het die regering in 2009, ’n verkiesingsjaar, ’n brandstofsubsidie ingestel nadat betogers die stad in 2008 ontwrig het en ses mense dood is.
Amaral glo Mosambiek kon die geweld en betogings keer deur meer aanspreeklik te wees en die stygings te verduidelik.
10 mense is verlede week dood en 443 beseer in die betogings.
Brood is met 30% op en ’n 50 kg- sak rys kos R153 (750 meticais).
Die minimumloon vir ’n bouwerker is R496 (2 435 meticais) en ’n regeringsamptenaar of weermaglid s’n is R463 (2 270 meticais).
Claudia Altorio van die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram (WVP) glo duurder kos gaan ’n impak op WVP se hulpverlening hê, terwyl meer mense van voedselhulp afhanklik sal wees.
Volg Beeld op Twitter
- Beeld