SA vrou beweer sy en Tsvangirai is verloof
2012-09-13 22:59
Harare – Morgan Tsvangirai, Zimbabwe se premier, se trouplanne vir die naweek is weens nóg 'n moontlike hofsaak in gedrang.
Nóg ‘n vrou beweer nou dat sy romanties met die premier verbind word.
Nosipho Regina Shilubane, ‘n Suid-Afrikaanse vrou, het Donderdag 'n hofaansoek ingedien om die premier se troue te keer.
Dit kom ‘n dag na Zimbabwe se hooggeregshof ‘n saak uitgegooi het van ‘n vorige minnares van Tsvangirai wat ook die troue probeer keer het.
Shilubane beweer dat sy verloof is aan Tsvangirai. Die twee het glo in 2009 ontmoet ná hulle deur Shilubane se pastoor in ‘n hotel aan mekaar voorgestel is.
Shilubane beweer Tsvangirai het haar op ‘n vakansie na Singapoer, die Seychelle en Botswana geneem, en dat hulle steeds verloof is.
Die ander vrou wat Tsvangirai se troue wou keer, Locardia Karimatsenga, wil appèl aanteken teen die regter se besluit om haar saak uit te gooi.
Tsvangirai trou Saterdag met die sakevrou Elizabeth Macheka.
Ongeveer 500 gaste is na die troue genooi, waaronder verskeie staatshoofde van Afrika.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters