SA vredeswaarnemer in Darfoer doodgeskiet
2012-10-18 10:55
Darfoer – ‘n Suid-Afrikaanse vredeswaarnemer is doodgeskiet en drie ander gewond ná hulle in ‘n hinderlaag gelei is in Darfoer, het die departement van internasionale betrekkinge Donderdag bevestig.
“Hierdie dapper Suid-Afrikaners was deel van ‘n gesamentlike vredesending van die Afrika-unie en die Verenigde Nasies in Soedan,” het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, gesê.
Die Suid-Afrikaanse regering het Soedan gevra om die voorval te ondersoek.
Monyela het die regering se medelye met die slagoffer se familie betuig en gesê dat die regering die familie sal ondersteun.
AFP het vroeër berig dat die waarnemer dood is toe 'n konvooi waarin hy gereis het, aangeval is.
Hulle was op pad om berigte van geweld in die dorp Hashaba te ondersoek.
Ban Ki-moon, die VN se sekretaris-generaal, het ook gevra dat Soedan se regering die voorval ondersoek.
“Die sekretaris-generaal betuig sy medelye met die regering van Suid-Afrika, Unamid en die familie van die slagoffer,” het sy woordvoerder, Martin Nesirky, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA