SA protesnota help nie in Zim
2010-01-18 08:50
Sarel van der Walt
Johannesburg - Pogings om Suid-Afrikaanse boere in die ooste van Zimbabwe gewelddadig van hul plase te verdryf, het Sondagr voortgeduur, ondanks die amptelike protesnota wat die Suid-Afrikaanse regering hieroor aan Zimbabwe gestuur het.
Koos Smit en sy tweelingseuns, Kobus en Michael, was gisteroggend nog deur plaasbesetters in hul plaashuis in die Nyazura-distrik naby Mutare vasgekeer.
Smith se vrou is deur vriende uit die huis gered en in veiligheid gebring, het ’n boer uit Zimbabwe per SMS laat weet.
Hy het gesê die plaasbesetters het eergisternag probeer om die voordeur van die Smit-gesin se huis af te brand.
Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Sondag in ’n verklaring bevestig Suid-Afrika het amptelik by Zimbabwe beswaar aangeteken nadat verskeie Suid-Afrikaanse boere die afgelope twee weke gewelddadig van hul plase verdryf is.
Van die Suid-Afrikaners is aangerand.
Nkoana-Mashabane het ’n beroep op Suid-Afrikaners wat deur die plaasbesettings geraak word, om kalm te bly in die “omstandighede buite hul beheer” terwyl die Suid-Afrikaanse regering die aangeleentheid met die Zimbabwiese regering bespreek.
Die minister se uitlating volg kort nadat dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, aan landbou.com gesê het die Suid-Afrikaanse regering se hande is afgekap om sy burgers in Zimbabwe te beskerm voordat albei lande se parlemente die onlangse ooreenkoms vir die beskerming van beleggings (BIPPA) tussen Suid-Afrika en Zimbabwe nie bekragtig nie.
Dít kan maande duur.
Op sy beurt het Willie Spies, regsverteenwoordiger van die menseregte-organisasie AfriForum, gesê hy is verheug oor die regering se protesnota aan Zimbabwe.
Spies sê die nuwe benadering van die regering “lui hopelik die einde in van die gewraakte beleid van stille diplomasie wat tot dusver deur Suid-Afrika teen menseregtevergrype gevolg is”.
Hy sê AfriForum sal die situasie fyn dophou en stappe doen indien dit blyk dat die regering se optrede te kort skiet aan die vereistes wat BIPPA neerlê.
AfriForum is op die oomblik betrokke by ’n hofsaak om Zimbabwe te dwing om gehoor te gee aan die uitspraak van ’n tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in 2008 dat die grondhervormingsproses in Zimbabwe onwettig en rassisties is.
- Beeld