SA oorweeg magsvertoon om AU pos te kry
2012-02-05 08:58
Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse regering meen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van binnelandse sake, moet weer probeer om voorsitter van die kommissie van die Afrika-Unie (AU) te word.
Regeringsamptenare is egter nog onseker hoe om haar nóg ’n vernederende nederlaag te spaar.
Dlamini-Zuma kon Maandag in die Ethiopiese hoofstad, Addis Abeba, nie die nodige stemme van Afrika-lande kry vir die pos nie.
Hierop het ’n lid van Dlamini-Zuma se ondersteuningspan gesê Suid-Afrika moet sy ekonomiese invloed begin gebruik om stemme te verseker.
“Die tyd is verby dat ons met almal vriendelik en gaaf gaan wees.
“Ons moet die lande daaraan herinner dat hulle Suid-Afrika nodig het,” het ’n amptenaar gesê.
Maar ander is juis huiwerig oor dié benadering omdat Suid-Afrika reeds beskou word as ’n land wat sy magsposisie in Afrika gebruik om sy sin te kry.
Intussen het die regering die afgelope week hard probeer om sy teleurstelling oor die uitslag te verberg.
Dlamini-Zuma het met net ’n paar stemme verloor teenoor Jean Ping, die huidige ampsdraer van Gaboen. Agter die skerms probeer amptenare uitpluis wat skeefgeloop het.
“Omtrent tien lande wat ons verwag het sou vir ons stem, het ons teleurgestel.” Die amptenare wil nie verklap of enige lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) vir Ping gestem het nie.
Die SAOG het die mandaat aan Dlamini-Zuma gegee om die streek te verteenwoordig as ’n kandidaat.
Die AU het nou ’n komitee aangestel om weer te kyk na die organisasie se reëls van so ’n stemmery.
Ping het ook nie die vereiste tweederdemeerderheid van stemme gekry nie en omdat hy reeds in die pos is kan hy volgens die huidige reëls nie weer staan vir verkiesing nie.
Daar is geen reëls wat Dlamini-Zuma verhinder om haar weer verkiesbaar te stel nie, want sy beklee nie tans ’n AU-pos nie.
Die AU het hom nog nie vantevore in so ’n dilemma bevind nie.
Intussen bly Nigerië ’n belangrike struikelblok vir Suid-Afrika. Die regering wil steeds probeer om dié Wes-Afrika-land te oortuig om Dlamini-Zuma te steun.
Amptenare verwag dat Ping, selfs al word die reëls gewysig, nie toegelaat sal word om hom weer verkiesbaar te stel nie, wat sal beteken dat Dlamini-Zuma die konsensuskandidaat is.
Dit kan beteken dat ’n stemproses in Junie by die AU-spitsberaad in die Malawiese hoofstad Lilongwe onnodig sal wees.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport