SA huursoldate in Libië aan hul eie lot oorgelaat
2011-10-26 09:03
Johannesburg – Die groep van minstens 19 Suid-Afrikaners wat glo gewapende begeleiding aan kol. Muammar Gaddafi verskaf het net voordat hy verlede week in Libië gevang en doodgeskiet is, word aan hul eie lot oorgelaat.
Dít is die boodskap van Siphiwe Dlamini, die woordvoerder van die Suid-Afrikaanse departement van verdediging, wat by navraag gereageer het oor die beweerde betrokkenheid van die groep by dié voorval. Die Suid-Afrikaners het, na berig word, uitmekaar gespat toe Navo-vliegtuie verlede Donderdag net buite Sirte, Gaddafi se geboortedorp, op sy konvooi geskiet het.
“Enige Suid-Afrikaners wat militêr in Libië betrokke sou wees, sou onwettig optree en doen dit op eie risiko. Hulle is hul eie verantwoordelikheid,” het Dlamini gesê.
“Ingevolge die Wet op die Verbod op die Aktiwiteite van Huursoldate van 2006 word Suid-Afrikaners verbied om in enige konflikgebied ter wêreld aan enige kant op te tree. Dit geld Libië ook.”
Benewens gevegte en enige ander militêre bedrywighede word Suid-Afrikaners ook verbied om betrokke te wees by “die beveiliging van enige individu, personeel of eiendom in enige vorm”, lui die wet.
Dit is onduidelik hoeveel Suid-Afrikaners in Libië betrokke is of was. Berigte wil dit hê dat dit meer as 50 kan wees.
’n Groep van 35 was glo betrokke by ’n operasie waartydens Gaddafi se vrou, Safia, sy dogter Aisha en twee van sy seuns, Hannibal en Mohammed, op 27 of 28 Augustus na ballingskap in Algerië gevlug het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld