SA groep help Gaddafi se seun
2011-10-27 08:04
Pretoria – Elemente van die groep Suid-Afrikaners wat na bewering ook betrokke was by wyle kol. Muammar Gaddafi se mislukte ontsnappingspoging verlede week sien blykbaar steeds om na sy een seun, Saïf al-Islam.
Al-Islam was deurgaans saam met sy broer, Mu'tassim, aan hul pa se sy terwyl hy eers uit Tripoli en toe tussen verskillende wegkruipplekke in sy tuisdorp, Sirte, beweeg het. Al-Islam is ook allerweë as sy pa se opvolger beskou.
Mu'tassim is op dieselfde dag as Gaddafi dood. Hul lyke is daarna saam in die koelkamer in Sirte bewaar en vandeesweek op ’n onbekende plek begrawe.
Die Suid-Afrikaners is gekontrakteer deur ’n maatskappy wat in die verlede glo noue bande met Gaddafi gehandhaaf het. Vliegtuie is volgens Die Burger se inligting op ’n gereedheidsgrondslag by die Lanseria-lughawe sowel as in Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate om te gaan help om die Suid-Afrikaners, en vermoedelik ook Al-Islam, wanneer moontlik uit te vlieg.
Die maatskappy het glo onder meer instrukteurs verskaf om Gaddafi se presidensiële wag te help oplei. Dit het ook verskeie finansiële transaksies van Gaddafi in die buiteland gehanteer.
Die Suid-Afrikaanse maatskappy was na bewering destyds by verskeie kontrakte in Irak betrokke, maar het sy hoofkantoor sedertdien na die buiteland verskuif – vermoedelik om enige vervolging in Suid-Afrika vry te spring.
Sowat agt weke gelede was ’n groep Suid-Afrikaners na bewering ook betrokke by die verskuiwing van ’n groot hoeveelheid van Gaddafi se bates, waaronder goud, valuta en diamante, na ’n bank in Niamey, Niger.
Een groep het sowat ’n maand gelede gehelp om Gaddafi se vrou, Safia, sy dogter Aisha en twee van sy seuns, Hannibal en Mohammed, te help ontvlug toe die opposisiemagte Tripoli bestorm het. Die tweede groep was vermoedelik verantwoordelik vir die verskuiwing van die bates, terwyl die derde groep by Gaddafi se ontsnappingspoging betrokke was.
Van die Suid-Afrikaners wat “laat” in Tripoli opgedaag het toe die rebellemagte met onverwagse spoed beheer oor die hoofstad oorgeneem het, is gestrand in die stad gelaat. Hulle moes glo uiteindelik vir hul lewens vlug deur ’n bootoperateur om te koop om hulle na Malta te neem.
Onder die Suid-Afrikaners wat na bewering betrokke is, is voormalige soldate en polisiemanne. Almal is gesoute operateurs in die buiteland en word glo slegs op uitnodiging by operasies betrek, waarvoor hulle groot bedrae in dollars ontvang.
Die naweek is berig dat van die Suid-Afrikaners in Gaddafi se ontsnapping in die aanval op die konvooi gewond en dood is. Van hulle sit tans gestrand en gewond in Libië.
Navo het intussen laat blyk sy magte in Libië het nie geweet Gaddafi is in die konvooi van dosyne voertuie toe dit verlede Donderdag uit Sirte begin beweeg het nie.
Die VSA se ambassadeur by Navo, Ivo Daalder, het die naweek gesê Navo-vliegtuie het die afgelope sewe maande enige bewegings deur groepe voertuie of militêre eenhede van Gaddafi dopgehou en aangeval as daar gereken is dit is op ’n sending teen Libiese inwoners gemik.
“Dit was nie ’n geval dat ons agter Gaddafi aan was nie. Ons mense het ’n konvooi sien wegbeweeg en dit aangeval.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger