S-Soedan verskuif binnekort hoofstad
2011-09-05 19:00
Juba – Suid-Soedan het Sondag gesê dat hy beplan om binne die volgende paar jaar sy hoofstad na ‘n meer sentrale omgewing te skuif.
Juba het die hoofstad van Suid-Soedan geword nadat die land op 9 Julie onafhanklikheid van Soedan gekry het.
Die kabinet het egter besluit dat die hoofstad binne vyf tot agt jaar na Ramciel sal skuif. Die gebied is grotendeels onbewoond en nader aan die middel van Suid-Soedan. Dit sal dan op die wesbank van die Wit Nyl-rivier lê.
Barnaba Marial Benjamin, Suid-Soedan se minister van inligting, het gesê die nuwe omgewing, wat nog geen permanente geboue het nie, is sowat 100 km noord van Juba af.
“Daar is geen voldoende grond in Juba nie. Die grond wat wel beskikbaar is, is te klein,” het hy gesê.
“Die enigste gebied wat die nuwe regering sal kan huisves, is weivelde vir diere.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters