S-Soedan: Nóg 47 sterf in geweld
2012-01-17 19:00
Juba – Lede van ‘n Suid-Soedannese stam wat voorheen in ‘n massiewe etniese aanval geteiken is, het 47 mense in nóg ‘n wraakaanval doodgemaak, het ‘n beampte Dinsdag gesê.
Lede van die Murle-gemeenskap het Maandagaand ‘n ander gemeenskap, Duk Padiet, in die Jonglei-staat aangeval, het Philip Thon Leek Deng, ‘n parlementslid, in die Suid-Soedannese hoofstad, Juba, gesê.
Sommige van die inwoners van Duk Padiet wat van die stam Lou Nuer is, het teruggeveg en ‘n onbekende aantal aanvallers doodgemaak.
“Die meerderheid van die 47 wat doodgemaak is, is jong kinders wat nie kon hardloop nie, ou vroue, ou mans, gestremde mense,” het Deng gesê.
Die sterftesyfer kon nie onmiddellik bevestig word nie.
Die aanval kom ná ‘n reeks aanvalle wat deur die Murle teen die naburige Lou Nuer-gemeenskap in Jonglei uitgevoer is.
Soortgelyke aanvalle het die afgelope week in die naburige streke van Uror en Akobo plaasgevind.
Meer as 120 mense het sedert die wraakaanvalle op 8 Januarie begin het, gesterf.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP