Rwandese aktiviste in hegtenis geneem
2010-07-26 12:47
Kigali - Die Rwandese polisie het Maandag gesê dat hulle twee persone in hegtenis geneem het, beide opposisie-aktiviste, wat glo beplan het om ongemagtigde betogings te hou.
Hierdie inhegtenisname het daartoe gelei dat ‘n opposisieleier vir hul vrylating gevra het.
Dié twee is glo deel van die opposisieleier, Victoire Ingabire, se party. Ingabare wil die huidige president Paul Kagame op 9 Augustus aanpak tydens die presidensiële verkiesing. Die party is egter nog nooit geregistreer nie.
“Die twee wou Maandag ‘n ongemagtigde betoging hou. Hulle is nou in aanhouding,” het Eric Kayiranga, polisiewoordvoerder, aan Radio Rwanda gesê.
Die mans is glo reeds Saterdag in hegtenis geneem, verskeie baniere en T-hemde met slagspreuke daarop is in hul voertuig gevind.
Volgens Ingabire is die aktiviste glo geslaan en doen sy ‘n beroep op owerhede om hul vry te laat.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP