Rusland, Libië bespreek glo Gaddafi se 'uittrede'
2011-07-22 11:30
Moskou – Hooggeplaaste Russiese en Libiese diplomate het tydens ‘n vergadering in Moskou die moontlike uittrede van Muammar Gaddafi, die Libiese leier, bespreek, het die Interfax-nuusagentskap Vrydag berig.
“Muammar Gaddafi se uittrede is tydens die vergadering in redelike konkrete terme bespreek. Die kontak tussen Tripoli se verteenwoordigers en Amerika en Frankryk is ook in gedagte gehou,” het die bron gesê.
Abdelati Al-Obeidi, die minister van buitelandse sake en die Gaddafi-beampte met die hoogste rang wat Moskou besoek het sedert die konflik met die rebelle begin het, het vir meer as ‘n uur lank met Sergei Lavrov, die Russiese minister van buitelandse sake, vergader.
Al-Obeidi het egter ná die vergadering gesê Gaddafi se moontlike uittrede was nie amptelik op die agenda nie.
“Gaddafi se uittrede is in dié stadium nie onderhandelbaar nie,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP