Rooi Kruis besoek Gbagbo
2011-07-22 13:07
Genève – Die Rooi Kruis het Laurent Gbagbo Vrydag as deel van ‘n reeks besoeke aan mense wat in die noorde van die Ivoorkus aangehou word, besoek.
“Die internasionale komitee van die Rooi Kruis (IKRK) het pas ‘n reeks besoeke aan mense wat in aanhouding of onder huisarres is, voltooi,” het die IKRK in ‘n verklaring gesê.
“Onder andere is Laurent Gbagbo, die voormalige president van die Ivoorkus, besoek.
“Die besoeke het van 18 tot 21 Julie in Bouna, Boundiali, Katiola, Korhogo en Odienne, in die noorde van die land, plaasgevind.”
Marcal Izard, die IKRK se woordvoerder, het gesê dit is, weens vertroulikheidsregulasies, nie moontlik vir die agentskap om verdere inligting oor die toestand van die gevangenes te gee nie.
Enige bekommernisse wat die agentskap het, moet direk met die owerhede bespreek word. Slegs in die uiterste gevalle sal die IKRK sy vrese aan die publiek bekend maak, het Izard gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP