Rekspronge by Victoria-waterval dalk binnekort hervat
2012-01-30 19:00
Harare – Rekspronge by die Victoria-waterval sal glo binnekort weer hervat word ná 'n ongeluk vroeër vandeesmaand waartydens ’n toeris in die Zambezirivier geval het, het News Day op hul webwerf berig.
Beamptes van die Zimbabwiese toerismemaatskappy Shearwater het bevestig dat rekspronge binnekort weer hervat gaan word.
Hulle het bygevoeg dat die koord wat gebreek en veroorsaak het dat die 22-jarige toeris Erin Langworthy op Oujaarsaand in die Zambezirivier beland het, intussen herstel is.
Langworthy het van die brug by die Victoria-waterval gespring en kop eerste in die Zambezirivier – 111 meter onder die brug – beland.
Die ongeluk is op video vasgelê en daar kan gesien word hoe Langworthy die water tref terwyl haar voete nog vasgebind is. Sy het hierna in die rigting van stroomversnellings in die rivier gedryf.
Sy het dit reggekry om krokodille te vermy en kon haarself aan die Zimbabwiese kant van die rivier op die oewer kry.
Langworthy het ’n sleutelbeen gebreek en erge kneusings opgedoen. Sy is na Suid-Afrika gebring vir behandeling.
– Volg Nuus24 op Twitter.