Rebelleleier oorhandig wapens
2009-08-22 12:14
Yenagoa, Nigerië - Owerhede sê 'n prominente rebelleleier in Nigerië se olieryke Delta-streek gaan vuurpyllanseerders en kanonneerbote aan dié land se regering oorgee in die grootste oorhandiging van wapens sedert die Nigeriese regering twee weke gelede besluit het om 'n amnestie-program te begin.
Timiebi Koripamo-Agary, 'n woordvoerder vir die regering se amnestieveldtog, wat twee maande sal duur, het gesê Ebikabowei "Boyloaf" Victor Ben gaan hom op Saterdag, 22 Augustus aan owerhede oorhandig. Sy kon nie sê hoeveel rebelle sou saam met hom oorgee nie.
Ben was 'n staatsbevelvoerder vir die streek se grootste gewapende groep, die Movement for the Emancipation of the Niger Delta. Die groep sê dit staan Ben vry om hom oor te gee, maar hulle weier om deel te neem aan die amnestieprogram omdat dit volgens hulle nie die streek se probleme aanspreek nie.
Ontleders sê die amnestieprogram spreek nie die probleme van besoedeling, armoede en korrupsie aan nie.
- SAPA