Rebelleleier in Darfoer gedood
2011-12-26 08:50
Kartoem – Die Soedannese weermag het die leier van die grootste rebellegroep in Darfoer in gevegte vroeër die week gedood, het militêre leiers gesê.
Khalil Ibrahim was die leier van die Justice and Equality Movement (JEM), die belangrikste rebellegroep in Darfoer, die westelike streek wat sedert 2003 deur geweld geteister word.
Die weermag het Sondag gesê hy is Donderdag tydens 'n skermutseling in die Noord-Kordofan-staat aan die grens van Darfoer gewond.
Die regering het gesê hy het Saterdag aan sy wonde beswyk, en dat hy kort daarna deur rebelle begrawe is.
Verteenwoordigers van JEM kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
Die Soedannese minister van inligting, Abdullah Massar, het gesê Ibrahim se dood stuur 'n boodskap aan rebellegroepe om "te luister na die stem van wysheid en om te deel in die vredesproses."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP