Rebelle val Soedannese weermag aan
2011-11-02 15:28
Kartoem – Soedannese beamptes het gesê regeringsmagte het ‘n grootskaalse rebelle-aanval in Suid-Kordoefan, ‘n staat digby die grens van Suid-Soedan, afgeweer.
Hamed Haroon, die staatsgoewerneur, het gesê die regeringsmagte het meer as 100 rebelle tydens die gevegte Maandag gedood. Sommige soldate is ook dood, maar Haroon kon nie met sekerheid sê hoeveel nie.
Rebelle van die SPLM-party ag hulself as onderverteenwoordig in Soedan se regering en val op ‘n gereelde basis regeringsmagte aan in gebiede onder hulle beheer in die Nuba-gebergtes.
Die aanvalle belemmer Soedan se planne om sy grens met Suid-Soedan te beveilig.
Kol. Al-Sawarmi Khalid Saad, ‘n woordvoerder vir die weermag, het gesê sowat 700 SPLM-vegters het weermagposisies in die Toladi-omgewing aangeval, maar dat die regeringsmagte vinnig die oorhand gekry het.
Die rebelle se woordvoerders was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP