Raul Castro wéér in Angola
2009-07-22 13:39
Angola- Kubaanse president, Raul Castro, het pas sy tweede besoek in ses maande aan Angola afgesluit.
Castro het twee dae in die voormalige Portugese kolonie spandeer, waartydens hy in gesprekke met dié land se president, Jose Eduardo dos Santos, was.
Kuba het onderneem om 230 dokters na Angola te stuur.
Die presidente het ook onderteken om mekaar uit te help met navorsing in telekommunikasie.
Angola, soos verskeie ander Afrika-lande, kort drasties dokters danksy ‘n uitvloei van kennis uit die land.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) stel voor dat daar een dokter vir elke 1000 inwoners van ‘n land moet wees. In Angola is daar tans een dokter vir elke 10 000 inwoners, het Jose Van-Dunem, minister van gesondheid gesê.
Daar is reeds sowat 200 Kubaanse dokters in Angola.
Van Dunem het ook aangekondig dat Kuba en Angola saam sal werk aan ‘n entstof teen Cholera.
–Sapa